Ons span

Radio Fynbos is 'n digitale radiostasie in die pragtige Hessequa-distrik, waar ons daagliks daarna streef om die skoonheid en uniekheid van ons gemeenskap uit te lig. By Radio Fynbos is dit ons passie om fyn ingestel te wees om die mooi agter elke bos te soek, of dit nou by plaaslike gebeure, gemeenskapsinisiatiewe of jou eie unieke instansie is.

By Radio Fynbos glo ons dat elke storie die moeite werd is om vertel te word. Ons span is toegewyd om die stemme van ons gemeenskap te versterk en 'n platform te bied waar almal gehoor kan word. Of jy nou 'n plaaslike kunstenaar, 'n gemeenskapsleier, of net iemand met 'n interessante storie is, ons wil van jou hoor!

Ons fokus is eenvoudig: Om outentiek te wees en 'n lekker aanlyn kuierplek te skep waar luisteraars kan ontspan en die beste van ons streek kan geniet. Ons programme is ontwerp om 'n wye verskeidenheid van smake en voorkeure te akkommodeer, met musiek, gemeenskapsnuus, en geselsprogramme wat almal se belangstelling sal prikkel.

Saam kan ons die mooi agter elke bos ontdek en vier. Radio Fynbos – jou digitale venster na die hart van die Hessequa-distrik.

Ontmoet ons span

Leonie Pretorius Roets

Leonie Pretorius Roets

Posisie: Bestuur, programaanbieder en omroeper

Meer oor Leonie: Uit 'n groot passie om iets terug te ploeg in die Hessequa-gemeenskap, het Leonie en haar man, Gerhard Roets, die radiostasie gekoop. Spontaan het die slagspreuk van die radiostasie wat die mooi agter elke bos soek, uit haar hart gekom. Dit is presies wat sy en hulle dogter, Chanté, gaan doen – om die mooi vir jou oor die lug te bring. Wie is jy agter daardie fynbos waar jy bly? Wat is die mooi wat jy kan bring? Sy is al 'n geruime tyd die stem agter die oggendboodskap ‘Nuwe Dag’, want wat sou ons hê en kon doen as God nie die mooi vir ons gegee het om uit te deel nie? Radio Fynbos se stem sal gehoor word van die mooi wat gesoek en gevind is agter elke bos. Wanneer mense by Stilbaai se bootjie afdraai, moet hulle wil hoor wie ons is en wat ons in die Hessequa-area doen wat mooier is as ander plekke.

Chanté Jonker

Chanté Jonker

Posisie: Bestuur, kreatiewe filmregisseur en omroeper

Meer oor Chanté: Chanté se passie lê agter die kamera, waar sy jou storie tot lewe bring. Sy is op soek na die skoonheid in elke verhaal, omdat sy glo dat jou storie 'n dokumentêr verdien. Dit stel mense in staat om die dieper betekenis agter jou ervarings te sien en te heroorweeg wat die lewe hulle geleer het. Saam met Francois, Radio Fynbos se grafiese kunstenaar, kan sy jou help om 'n unieke advertensie vir jou besigheid te skep – iets wat jy nie sommer agter elke bos sal vind nie. Chanté sien daarna uit om jou storie kleur en lewe te gee met haar uitgebreide ervaring as grimeerkunstenaar, film- en dokumentêrregisseur.

Francois Terblanche

Francois Terblanche

Posisie: Grafiese ontwerp en skrywer

Meer oor Francois: Francois is Radio Fynbos se grafiese ontwerper wat jou digitale advertensies tot lewe bring. As skrywer kan hy jou help om die storie van jou instansie of besigheid te verwoord en dit op ons aanlyn blog te laat leef. Francois is die skrywer van talle publikasies en 'n entrepreneur wat unieke benaderings tot bemarking op Radio Fynbos se platforms inbring.